
=====================================================================
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Vrouekrag in die Suid-Kaap

Rita Louw doen verslag van die inspirasie wat skryflustiges op Stilbaai uit gedeelde geesdrif put.

IDEES word soms uit nood gebore. Al gehoor van 'n skryfkring waarvan die lede hoofsaaklik in Afrikaans skryf, wat sy ontstaan na die titel 
van 'n Engelse boek kan terugvoer? Iets soos The Loneliness of the Long distance Runner van Sillitoe?

Hoe bring 'n mens nou hierdie kloutjie by die oor? Die tyd : Januarie 1994. Die plek: studeerkamer op Riethuiskraal, 'n plaas langs die Gou-
Kourivier by Stilbaai, toe nog die Kafferkuilsrivier. Hoofkarakter: afgetrede leerkrag; vakrigting: Engelse letterkunde.

Die aftreesindroom het my verniel. Ek het dit met al twee hande gepak: het alles probeer lees waarby ek nooit uitgekom het nie, rolbal leer 
speel, verdere studie in Engels voltooi, 'n rekenaar aangeskaf en bemeester, maar dit was nie genoeg nie.

Ek wou nog altyd skryf, maar die lewe het my nooit die tyd gegun nie. Op ons geskiedkundige grond het baie stories gel. Daar was egter 
probleme. My matriek-Afrikaans was verroes en hierdie stories was so Afrikaans soos snoek en patats Kaaps is. As boorling van die Oos-Kaap 
was my wortels in Engelse sooie geplant en my opleiding en my hele professionele loopbaan was in Engels.

Ek het gaan sit en skryf en besef hoe eensaam hierdie paadjie werklik is. Ander eensame woordploeteraars moes gevind word. Die reaksie op 
'n advertensie in ons plaaslike koerantjie was beskeie. By ons eerste vergadering was net vier mense, maar hulle het twee dinge gemeen 
gehad: hulle wou skryf en hulle wou in Afrikaans skryf.

Dit was vier jaar gelede en nou bars die skryfkring uit sy nate met lede wat tot van Riversdal en Mosselbaai kom.

By die eerste vergadering is volgens riglyne van die tydskrif Writers' World 'n aksieplan opgestel: Die enigste vereiste vir lidmaatskap is 
hope entoesiasme; ons sal tweemaandeliks bymekaarkom; 'n jaarprogram vir werkswinkels sal opgestel word wat deur die behoeftes van die lede 
bepaal word; ons sal die hulp van kundiges kry om ons te onderrig; ons sal probeer om 'n afsetgebied vir ons skryfwerk te vind; ons sal nou 
saamwerk met die plaaslike biblioteek en probeer om 'n diens aan Stilbaai se gemeenskap te lewer.

Die eerste jaar gee ons klein treetjies. Ons skryf briewe aan tydskrifte en die pers. Toe volg 'n werkswinkel oor kinderverhale, en oumas 
wat nog net vir hul kleinkinders stories vertel het, begin skryf. Die Voorligter koop een van ons lede se poging; 'n ander een s'n word 
deur die destydse Radio Suid Afrika uitgesaai. Vrouerubriek lees ook 'n paar sketse. Almal juig saam.

Die volgende jaar vat vier lede die lang pad Potchefstroom toe en woon die ATKV se Skryfskool by. Hulle kom so begeester terug dat daar tot 
onder die stort gedig word. Hulle nooi sommer ook vir prof. Hans du Plessis om 'n kursus in die skryf van kortkuns en posie op Stilbaai te 
kom aanbied. Di kursus lok kursusgangers van oral uit die Suid-Kaap en 'n naweek lank worstel genspireerdes van Franschhoek tot 
Jeffreysbaai met woorde langs die see.

Vanjaar het Petra Mller kom kuier en 'n yskoue naweek is 'n woordfees om 'n kaggelvuur van rooipitjiestompe gehou.

Die gemeenskap word nie vergeet nie. In samewerking met die plaaslike biblioteek word jaarliks 'n oggend aan die skryfsels van die 
skryfkring gewy. Lede lees aan die publiek van hul eie werk voor. Die meeste genres word aangebied: sketse, verhale, kinderstories, 
kontreistories, spookstories en gedigte. Di program is baie gewild.

Die heel nuutste projek is 'n aand van woord en klank. Lede van die skryfkring bied tweemaandeliks 'n program van skryfwerk en paslike 
musiek aan in 'n teekamer met 'n manjifieke uitsig oor die riviermond. Net tien lede van die publiek mag uitgenooi word.

Elke jaar nooi die skryfkring die een of ander kunstenaar na Stilbaai om by 'n sjampanjeontbyt op te tree. Daar word geprobeer om 
kunstenaars van die Suid-Kaap te betrek -- van die kunstenaars wat op die Klein Karoo Kunstefees optree. Die opbrengs gaan aan 
liefdadigheid of word gebruik om die skryfkring se koste vir werksessies met leermeesters van buite te help dek of om tydskrifte en 
handboeke te koop.

Die ledetal groei vinnig en die werk gedy. Di mense laat hulle nie onderkry deur die feit dat dit vir nuwe skrywers haas onmoontlik is om 
uitgewers te kry wat in hul werk belangstel nie. Di klomp is talentvolle mense -- hulle kan nie net skryf nie, maar sommige kan skilder en 
is ook kenners van musiek. Lirieke is al vir operettes geskryf en twee van die lede is nou besig om 'n revue met een van die agtergeblewe 
skole in te studeer; alles word self gedoen: die lirieke, die musiek, die kostuums.

Die mooiste kinderboeke word self uitgegee: verhale, illustrasies en selfs 'n boek met 'n geborduurde buiteblad is voortgebring. Gelukkig 
bied al die oumas en vakansiegangers op Stilbaai 'n redelike afsetgebied. Die digters en prosaskrywers slaag so dan en wan met 'n 
publikasie in kerk- en ander blaaie. Met die verandering van die programme op Radio Sonder Grense het hierdie mark weggeval en Suid-Kaap 
Stereo bied ook nie afsetgebied nie.

Moed gaan die lede nie opgee nie. Tans werk hulle aan 'n bloemlesing van kortkuns wat deur al die lede saamgestel word. Aletta Hanekom, 'n 
stigterslid uit die verre Fransmanshoek, het sover die grootste sukses behaal deur in opdrag van die Streekdiensteraad 'n boek, Die Bad se 
Storie, die geskiedenis van die Calitzdorp Spa, die lig te laat sien. Terwyl sy besig was met 'n soortgelyke werk oor Fransmanshoek, is 
haar rekenaar met al haar navorsing gesteel.

Van die grootste bates van die Stilbaai Skryfkring is die vriendskappe wat gevorm word. Mense met dieselfde belangstelling en dieselfde 
skeppingsdrang, wat anders nooit bymekaar sou uitgekom het nie, word vriende en doen sinvol wat hulle met liefde wil doen: hulle skryf in 
Afrikaans.   Rita Louw is die krag agter die Stilbaai Skryfkring.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5514.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

